VSA. Corey Comperatore (50), ‘n brandbestryder, het Saterdagaand in die sluipmoordaanval op Donald Trump in Butler, Pennsilvanië, aan skietwonde gesterf.
Comperatore was saam met sy gesin by die verkiesingsaamtrek en het hom tussen sy familie en die koeëls geplaas toe die skietery losbreek. Die skieter, Thomas Matthew Croocks (20), is deur ‘n skerpskutter van die geheime diens doodgeskiet.
Helen Comperatore het aan die media gesê haar man is haar held. “He’s my hero, he just said, ‘Get down!’ That was the last thing he said.”
Comperatorie word deur sy vrou, sy dogters, sy ma, twee susters en ‘n stiefbroer oorleef.
David Dutch (57) van New Kensington in Pennsilvanië en James James Copenhaver (74) van die Moon-woonbuurt in Pennsilvanië is ook tydens die skietery gewond. Hulle is volgens die polisie stabiel.
Dutch is deur die Marine Corps League of Pennsylvania, Inc. as ‘n kommandant van hulle organisasie in Westmoreland County geïdentifiseer.
Copenhaver se familie het in ‘n verklaring gesê hy is kritiek, maar stabiel.
Bronne: MSN.com, CNN, New York Post





