WES-KAAP. – Gcinilelitha Ngcobelothe is lewenslange tronkstraf in die hooggeregshof vir die moord op Riedwaan Addinall (82) en sy vrou Rugeya Addinall (82), sy werkgewers, opgelê.
Lwazi Ntsibantsiba, die medebeskuldigde, is tot 20 jaar effektiewe tronkstraf gevonnis.
Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê die staat het bo redelike twyfel bewys die twee beskuldigdes het op 5 Januarie 2019 die bejaardes in hullle huis in Sandownrylaan in Ottery verwurg. Rotgif was ook in Rugeya Addinall se mond gekry.
Regter Brian Hack het bevind Ngcobelothe het nie berou gewys nie en het die vertroue van die oorledenes verraai. Ngcobelothe is vir elke moord lewenslank en vir roof met verswarende omstandighede nog 15 jaar ekstra direkte tronkstraf gevonnis. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word.
Hack het bevind Ntsibantsiba het nie die egpaar geken nie en het hulle dus nie verraai nie. Hy het ook bevind Ntsibantsiba het ‘n kans om gerehabiliteer te word. Hy is vir elke moord 20 jaar direk gevonnis en vir roof met verswarende omstandighede ‘n verdere 12 jaar. Die vonnisse sal ook gelyktydig uitgedien word, wat effektief 20 jaar tronkstraf beteken.
Op die misdaadtoneel was tekens van ‘n struweling gevind, meubels was omgekeer en items is rondgestrooi. Die beskuldigdes het die huis geplunder en met onder meer ‘n koordlose foon en televisiestel gevlug. Hulle het ook die voertuigsleutels gevat, maar kon nie die voertuig aanskakel nie.
Tydens die verhoor het die beskuldigdes mekaar die skuld gegee. Ngcobelothe het selfs die staatsgetuies van onder meer bedrog en die peuter met bewyse beskuldig. Die hof het sy beskuldigings verwerp. CCTV-opnames het die beskuldigdes in die erf en langs die voertuig geplaas. Ngcobelothe se vingerafdrukke is ook op die voertuig gevind.
Die staat het beide skuldig bevind en dienooreenkomstig gevonnis.