Twee busongelukke eis 15 lewens binne enkele dae

Lees ook :

Foto's: Limpopo departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid

LIMPOPO. – 10 buitelandse burgers het op 27 Augustus hulle lewens in ‘n busongeluk op die N1 buite Makhado verloor. Op 1 September het nog vyf insittendes van ‘n bus in ‘n ongeluk op die N1 buite Mokopane gesterf.

Die departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid in die provinsie sê ‘n bus was Dinsdag vanaf Zimbabwe na Johannesburg onderweg toe dit in ‘n ongeluk net voor middernag by 3 Miles betrokke was. Vyf mans en vyf vroue het gesterf.

Volgens inligting het die busbestuurder, wat nog nuut aangestel is en nie die roete ken nie, teen ‘n hoë snelheid oor ‘n verkeersirkel, die laaste een vanaf Makhado onderweg na Polokwane, gejaag, beheer verloor en die bus gerol. Beseerde insittendes is na verskeie hospitale in Makhado vervoer.

Sondag was die oorgrens-bus vanaf Johannesburg na Zimbabwe op pad toe dit om 17:30 onderweg na die Nyl-plaza gerol het. ‘n Vrou en vier mans het gesterf. Beseerde insittendes is na verskeie hospitale in Mokopane geneem.

Violet Mathye, die LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid in die provinsie, het kommer oor die ongelukke uitgespreek. Mathye het ‘n beroep op die busmaatskappye gedoen om te verseker dat hul bestuurders “geskik is vir die doel”, aangesien moegheid ‘n oorsaak in die mees onlangse ongeluk kon gewees het.

Mathe het medelye met die oorledenes se families betuig en die beseerdes spoedige herstel toegewens.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App