MPUMALANGA. – Ondersoekdeskundiges is die taak opgelê om twee dubbelmoorde wat afsonderlik in die provinsie plaasgevind het, te ondersoek.
Kol. Donald Mdhluli sê die liggame van Ayanda Mayibongwe Maphalala en nog ‘n onbekende vrou is op Sondag 20 Oktober 2024 in ‘n wit BMW op die N4-hoofweg naby die Arnot-afrit in Middelburg gekry. Beide het skietwonde gehad en is op die toneel dood verklaar. Die motor se nommerplate is verwyder, maar is later op die toneel gevind.
In Kabokweni het polisielede ‘n klagte van die publiek van mans wat na bewering in besit van gesteelde goedere gevind is, ontvang. Met aankoms op die toneel in Emanyeveni is twee mans dood met skietwonde aangetref. Die mans is op die toneel dood verklaar. Geen verdere besonderhede is oor die insident beskikbaar nie.
In geen van die twee insidente is arrestasies gemaak nie. Enigiemand met inligting wat die polisie met die ondersoeke kan help, is gevra om na vore te kom.





