WES-KAAP. – Twee plaaslike jong mans, onderskeidelik 20 en 17 jaar oud, het Saterdagaand vermis geraak toe hulle by Victoriabaai by George gaan swem het.
Mike Vonk, stasiebevelvoerder vir die NSRI-Wilderness sê hulpoproepe oor twee swemmers wat deur die see meegesleur is, is net voor 18:00 ontvang. Alle rolspelers, wat die NSRI se reddingswemmers en ‘n reddingsvaartuig, die polisie, George se brandbestryding- en reddingsdienste en regeringsnooddienste insluit, is geaktiveer.
“Met ons aankoms op die toneel het ooggetuies aangedui waar twee swemmers in die branders verdwyn het nadat hulle deur skeurstrome see toe gevoer is. ’n Uitgebreide soektog van die see en kus het geen teken van die vermiste twee aan die lig gebring nie.”
Vonk sê daar is bevestig ses jong mans het by Victoriabaai gaan swem. Die twee jong mans is deur die seestrome vasgevang en meegesleur is.
Die soektog het Sondag met behulp van ‘n hommeltuig voortgegaan en die polisie is steeds besig met die soektog.
“Ons gedagtes is by die familie en vriende van die vermiste man en van die vermiste tiener in hierdie moeilike tyd.”





