WES-KAAP. – Twee mans is Saterdag in afsonderlike voorvalle deur ‘n rob en nog ‘n onbekende dier in Bloubergstrand en Valsbaai gebyt.
Die NSRI, stadsowerhede, lewensredders en nooddienste versoek swemmers om versigtig in en om kuswater wees. Swemmers word versoek om op strande wat deur lewensredders beskerm word, te swem.
Die waterreddingsnetwerk is Saterdag omstreeks 13:00 geaktiveer. ‘n Man, vermoedelik 65 jaar oud, is aan die hand en been by Blue Waterstrand in Valsbaai gebyt terwyl hy borsdiepte in die see was. Daar word vermoed die dier wat hom gebyt het, mag moontlik ‘n klein haai wees. Die wonde is deur lewensredders behandel, waarna die slagoffer vir verdere mediese behandeling met ‘n ambulans na ‘n hospitaal vervoer is. Owerhede is besig met ‘n ondersoek om vas te stel deur watter spesie die man gebyt is.
Later die dag het ‘n plaaslike man ‘n klein bytwond deur ‘n rob opgedoen terwyl hy geswem het. Die man het raad gekry om die wond skoon te maak en om behandeling vir die bytwond by ‘n hospitaal te kry.