NOORDWES- Mankwane Suzan Raleru (54) en Morwesi Martareth Mokone (46), albei werknemers van die departement van onderwys in Noordwes, het Woensdag in die Rustenburg-landdroshof op aanklagte van onder meer bedrog verskyn.
Lt.kol. Tinyiko Mathebula, woordvoerder vir die Valke, het bevestig dat Raleru wel matriek geskryf het, maar nooit geslaag het nie. In Augustus 2008 het sy aansoek gedoen vir ‘n pos as veldwerker by die departement van vroeë kinderontwikkeling en ‘n vervalste matrieksertifikaat van 1992 ingedien. Sy het meer as R2.3 miljoen in salarisse van die departement ontvang.
Mokone, wat nooit matriek geskryf het nie, het in Maart 2011 met ‘n vervalste matrieksertifikaat van 1998 vir ‘n pos by ‘n laerskool aansoek gedoen en is aangestel. Sy het meer as R2.2 miljoen aan salaris van die departement ontvang.
Beide beskuldigdes is op R10 000 borg vrygelaat, en die saak is tot 14 November vir verdere ondersoek uitgestel.