ROODEPOORT, GAUTENG . – Gordon Matwetwe Muningi (50) en Tebogo Thutlwa (48) wat van die moord op dr. Michael Isabelle op 26 Februarie in sy praktyk in Dobsonville verdink word, het Maandag vir die eerste keer in die Roodepoort-landdroshof verskyn.
Phindi Mjonondwane, woordvoerder vir die NVG, sê drie verdagtes het glo op die betrokke dag gemaak of hulle mediese hulp vir ‘n vriend benodig. ‘n Aanval op Isabelle en ‘n skietery het in die spreekkamer uitgebreek. Die verdagtes het hierna in die voertuig van ‘n ontvangsdame gevlug. Die voertuig is later uitgebrand in Alexandra gevind. Een van die verdagtes is glo raakgeskiet en het later gesterf.
Op 21 Maart het die polisie die verdagtes in hegtenis geneem, waarna hulle vir twee moorde, vier klagtes van roof met verswarende omstandighede, opsetlike saakbeskadiging, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie en regsverydeling aangekla is.
Mjonondwane sê die saak is vir verdere ondersoek tot 2 April uitgestel.





