LIMPOPO. – Twee seuns, onderskeidelik 14 en 9 jaar, het Sondag in die Ngwaritsirivier in die Sekhukhune-omgewing verdrink. ‘n Seun wat hulle te hulp wou snel, is gekeer voordat hy die rivier kon ingaan.
Kol. Malesela Ledwaba sê die publiek word gewaarsku om na hulle kinders om te sien. Die seuns is rivier toe om te gaan visvang. Die jongste wou glo terugkeer huis toe, maar die oudste het aangedring om vis te vang. Die 14-jarige is die water in, waar hy in die moeilikheid beland en verdrink het. Die 9-jarige wat hom wou help, het ook verdrink.
‘n Vrou wat in die rivier was, het die derde kind wat die water wou ingaan, gekeer deur op hom te skree. Die twee drywende liggame van die kinders is deur lede van die gemeenskap uit die rivier gehaal. Nooddienste het hulle op die toneel dood verklaar.
Ledwaba sê geregtelike doodsondersoeke is geopen om die verdrinkings te ondersoek en om deur middel van ‘n nadoodse ondersoek die oorsaak van dood vas te stel.





