Twee persone het Saterdag in afsonderlike voorvalle by OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng en King Shaka Internasionale Lughawe in KZN gesterf.
In die eerste voorval, wat kort na 15:00 by OR Tambo-lughawe plaasgevind het, het ‘n persoon van die vyfde vloer van die parkeerarea na die grondvlak geval. Hy is op die toneel dood verklaar. By King Shaka-lughawe het ‘n ander passasier in die binnelandse aankomsarea ineengestort en is deur noodpersoneel dood verklaar.
Die oorledenes was albei passasiers. Omstandighede van beide sterftes word deur die Lughawemaatskappy van Suid-Afrika (ACSA) ondersoek.
Ernest Mulibana, woordvoerder vir ACSA sê aan Nuusflits beide voorvalle wat Saterdag gebeur het word ondersoek.
“Die oorsaak van dood in beide voorvalle is nog onbekend; ons kan egter bevestig dat die saak aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) oorhandig is. Geregtelike doodsondersoek is vir verdere ondersoeke geopen. ACSA betuig innige meegevoel met die families en geliefdes van albei reisigers in hierdie moeilike tyd.”