KWAZULU-NATAL. – Twee mans is vanoggend kort ná 05:30 in ’n ongeluk tussen ’n vragmotor en ’n ligte motorvoertuig op die hoek van Anton Lembede- en Stewart Simelanestraat in Durban se middestad dood.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê die ligte motorvoertuig het teen die kant van die vragmotor vasgery en daaronder beland. Die bestuurder en ’n passasier, albei vermoedelik in hul dertigs, was in die wrak vasgekeer. Die Ethekwini-brandweer is ontbied om bystand te verleen.
“Beide mans het ernstige beserings opgedoen, en ondanks pogings was daar niks wat paramedici kon doen om hul lewens te red nie. Hulle is op die toneel dood verklaar,” het Jamieson bevestig.
Die polisie was op die toneel teenwoordig. Die oorsaak van die ongeluk is nog onbekend, maar word ondersoek.





