VRYSTAAT. – Twee persone het gesterf toe ‘n blok woonstelle in Boiketlong, Sasolburg, Vrydagaand omstreeks 21:00 aan die brand geraak het.
Sers. Jospehine Rani sê die polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen nadat ‘n man en ‘n vrou gesterf het. Die woonstelle is volgens die voorlopige ondersoek nie vir woonplek gebruik nie. Persone het blykbaar van tyd tot tyd sonder die toestemming van die eienaar daar gebly.
Rani sê die polisie was besig met patrollie toe hulle rook by die gebou opgemerk het. Met aankoms was die tweede vloer van blok D aan die brand. ‘n Onbekende man en vrou is op die toneel dood verklaar.
Die oorsaak van die brand is onbekend, maar ondersoek word deur owerhede ingestel.
Die identiteit van die oorledenes sal bekendgemaak word sodra hulle uitgeken is.





