Twee sterf tydens beweerde taxiverwante geweld

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

OOS-KAAP. – Onbekende pesone het Woensdagmiddag omstreeks 17:00 op voertuie wat van Maclear na Tsolo onderweg was, geskiet. Een persoon is in ‘n voertuig dood terwyl nog een by ‘n hospitaal dood is.

Kol. Priscilla Naidu sê twee Toyota Fortuners met insittendes was aan die ry op die R396 toe op hulle geskiet is. Een persoon is doodgeskiet, waarna die insittendes in die tweede voertuig ingeklim en weggery het. Hulle het teen ‘n aankomende Toyota Quantum gebots en ‘n passasier in die Quantum het ‘n skietwond aan die arm opgedoen. ‘n Persoon wat glo later deur taxi-eienaars na ‘n plaaslike hopitaal geneem is, het ook gesterf. Nog persone het skietwonde opgedoen.

Die polisie ondersoek twee moorde en 12 sake van poging tot moord.

Naidu sê ongeveer 5 km van die toneel waar die oorledene in die Fortuner doodgeskiet is, is twee VW Polo-voertuie met vier insittendes aangetref. By hulle in ‘n sak was glo twee pistole, ‘n magasyn en ammunisie, wat gekonfiskeer is. Die verdagtes is vir die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie in hegtenis geneem. Daar word ondersoek of die verdagtes moontlik by die skietinsident betrokke was.

Naidu sê lt.genl. Nomthetheleli Mene, die provinsiale kommissaris, doen ‘n beroep op taxi-verenigings in die Maclear-omgewing om hulle verskille deur dialoog en onderhandelinge op te los.

“Geweld is nie die oplossing nie en lei net tot onnodige lyding en lewensverlies. Ons sal sigbaarheid in die gebied verhoog en beslissende stappe neem teen diegene wat geweld pleeg,” waarsku Mene.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief