MPUMALANGA EN LIMPOPO. – SANParke het Maandag twee verdagtes op vermoede van stropery by Spelenyane, buite die Kruger Nasionale Park, gearresteer. Hulle het agt ongelisensieerde vuurwapens, ammunisie en twee knaldempers in hulle besit gehad.
Isaac Phaahla, woordvoerder vir SANParke, sê ‘n intelligensie-gedrewe operasie is deur die park se omgewingsmisdaadondersoekeenheid, privaat sekuriteit en wetstoepassingsagentskappe uitgevoer, waarna die arrestasies gemaak is. Daar word vermoed die vuurwapens is tydens onwettige jag vir vleis en renosterstropery in die gebied gebruik.
“Dit is ‘n groot sukses, aangesien bosvleisstropery ‘n ernstige probleem in die streek geword het. Die verwydering van hierdie vuurwapens sal stropingsoperasies aansienlik belemmer.”
Daar word verseker SANParke se wildbewaarders, omgewingsmisdaadondersoekers en die SAPD sal met die doel om die park van buite skoon te maak met veldtogte om onwettige vuurwapens en verdagtes te identifiseer, voortgaan. Binne die bestek van twee maande is daar op twaalf onwettige vuurwapens beslag gelê en vyf verdagtes is gearresteer.





