KWAZULU-NATAL. – Twee verdagtes is Donderdagaand ná ’n mislukte transitorooftog in die Sinyameni-gebied in die daaropvolgende skietery dood. Nog twee verdagte mans in hul veertigs is op aanklagte van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie en poging tot moord in hegtenis geneem.
Brig. Jay Naicker, provinsiale polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits die polisie het onmiddellik ‘n operasie geloods ná inligting oor ’n beplande rooftog ontvang is. Wetstoepassers is ontplooi om die betrokke gebied te monitor en te patrolleer. ’n Mercedes-Benz met vier insittendes is opgemerk en takties benader, waarna op die polisie losgebrand is.
Tydens die oor-en-weer-skietery is twee verdagtes noodlottig gewond en die ander twee in hegtenis geneem. Twee ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie is op die toneel gevind. Voorlopige ondersoek het uitgewys een van die mans wat in hegtenis geneem is, was ‘n voormalige werknemer van ‘n veiligheidsmaatskappy.
Die verdagtes sal binnekort in die Msinga-landdroshof verskyn. Ondersoeke duur voort.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com





