MPUMALANGA. – ‘n Man wat glo tydens ‘n rooftog kopbeserings opgedoen het, se optrede word ondersoek, nadat twee beweerde verdagtes aan skietwonde gesterf het.
Lt.kol. Jabu Ndubane sê die insident het omstreeks 02:00 Sondagoggend in Tonga View gebeur. Die polisie is na die toneel van ‘n skietinsident waar ‘n man met kopbeserings aangetref is. Die man het na bewering gestap toe hy deur twee mans van agter gegryp en met ‘n vuurwapen gedreig en beseer is. Hy het glo terugbaklei en sy eie gelisensieerde vuurwapen uitgepluk en op sy aanvallers geskiet. Beide is op die toneel dood verklaar.
Ndubane sê koeëldoppies en die man se vuurwapen is vir die ondersoek gekonfiskeer. Die replika van ‘n wapen, met ammunisie gelaai, is langs die oorledenes aangetref.
Voorts bevestig Ndubane die man is vir verdere ondersoek aangehou, terwyl sy vuurwapen aan forensiese ballistiese toetsing onderwerp word.
Maj.genl. Zeph Mkhwanazi, die waarnemende provinsiale kommissaris, het ‘n behoorlike ondersoek na die gebeure beveel.





