Twee voertuie glo vir buiteland bedoel voor grenspos onderskep

Lees ook :

Foto's: SAPD

LIMPOPO. – Twee vermoedelike gesteelde voertuie ter waarde van meer as R2 m. is Sondagnag/ Maandagoggend onderskep voor dit die Beitbrug-grenspos kon bereik. Die voertuie was glo vir Malawi en Zimbabwe bedoel.

Brig. Hlulani Mashaba sê vier buitelandse burgers, tussen 29 en 44 jaar, is in hegtenis geneem. Inligting van voertuie wat die land uitgesmokkel word, is ontvang, waarna die voertuie tydens ‘n teen-smokkel-operasie teruggevind is.

Sondagaand omstreeks 21:30 is die grys Toyota Furtuner, waarvan inligting ontvang is, op die R101 deur polisielede opgemerk. Die bestuurder wou nie stop nie en het weggejaag. ‘n Hoëspoedjaagtog het gevolg, wat by die Polokwane Shell Ultra City-vulstasie in die Westenburg-polisiëringsarea tot ‘n einde gekom het. ‘n Malawiese burger, wat boonop moontlik die immigrasiewet oortree, is in hegtenis geneem. Voorlopige ondersoek dui aan die voertuig is Saterdag in Durban-Sentraal as gesteel aangemeld.

Maandag is inligting van ‘n Mercedes-Benz-vragmotor, wat glo op 14 April in Nigel in Gauteng gekaap is, deur die eenheid ontvang. Die vragmotor is omstreeks 02:00 op die N1-Noord in die Polokwane-polisiëringsarea opgemerk. ‘n VW Polo het saam met die vragmotor gery. Polisielede het hom probeer voorkeer en ‘n jaagtog het ontstaan. Die vragmotor het by ‘n plaas probeer injaag en in die proses die heining beskadig. Die bestuurder het sy been beseer toe hy probeer vlug het.

Polisielede kon die Polo met twee insittendes voorkeer en deursoek. Hule was glo in besit van vervalste dokumente vir die vragmotor. Drie verdagtes, tussen 29 en 43 jaar, is vir die besit van ‘n vermoedelik gesteelde voertuig en vals dokumente in hegtenis geneem. Die bestuurder is onder polisiebewaking in die hospitaal.

Die Toyota Fortuner se waarde is ongeveer R800 000 en die vragmotor R2 m.

Al die verdagtes verskyn vandag in die Polokwane-landdroshof. Die beseerde verdagte sal in absentia voorkom. Hulle word onder meer van aanklagte van vermoedelik gesteelde motorvoertuie en die besit van vervalste dokumente in die gesig gestaar.

Die ondersoek duur voort.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief