Lees ook: Boeing-fluitjieblaser dood gevind kort na getuienis
OKLAHOMA, VSA. – Nog ’n Boeing-fluitjieblaser is skielik oorlede. Die tweede fluitjieblaser, Joshua Dean, wat na vore gekom het met eise dat die maatskappy vervaardigingsdefekte ignoreer, is skielik oorlede na hy siek geword het.
Dean (45) het ’n aktiewe leefstyl gehad en was blakend gesond voor hy skielik siek geword en Dinsdag oorlede is. Volgens Fox59 het hy influensa B en MRSA gehad wat toe in longontsteking ontwikkel het. Hy was twee weke in die hospitaal in ‘n kritieke toestand voor hy dood is.
Dean is die tweede fluitjieblaser wat die jaar dood is na hulle oor veiligheidsprobleme by Boeing gepraat het.
John Barnett (62) is in Maart dood in sy trok in die parkeerarea van ’n hotel gevind. Hy het glo selfdood gepleeg na hy in ’n naamskendingsaak teen Boeing getuig het.
Minstens vier persone het reeds na vore gekom oor veiligheidsprobleme by Boeing. Twee van hulle is nou oorlede.
Bronne: The Independent, The Guardian, The Washington Post
Lees ook: Fluitjieblaser meld veiligheidsprobleme by Boeing aan





