WES-KAAP. – Die Wes-Kaapse hooggeregshof in George het Donderdag uitspraak gelewer in die vrouemoordsaak, waarin Duanne Singrew en Heinrich Jumat, sy neef, tereggestaan het. Hulle is daarvan beskuldig dat hulle Joan Pamela Singrew (52) ontvoer en vermoor het en is deur die hof skuldig bevind.
Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, sê die senior staatsadvokaat, Evadne Kortje, het in hofstukke aangevoer dat Joan Singrew ontvoer, vermoor en haar liggaam daarna in die Groot-Brakrivier gestort is. Haar liggaam is op 25 November 2024 gevind en die twee beskuldigdes vier dae later in hegtenis geneem.
Die hof het gehoor dat die slagoffer se dood volgens die nadoodse ondersoek ooreenstem met verwurging. Die beskuldigdes het op verskeie aanklagte tereg gestaan, insluitend moord, ontvoering, roof met verswarende omstandighede, aanranding met die doel om ernstig te beseer, asook die oortreding van ’n beskermingsbevel en regsverydeling.
Volgens ‘n vroeëre berig van Nuusflits is Singrew se liggaam op haar verjaardag in bosse naby Groot-Brakrivier ontdek nadat sy as vermis aangemeld is. Twee verdagtes is kort daarna in hegtenis geneem.
Regter André le Grange het Donderdag uitspraak in die saak gelewer. Volgens ‘n berig in die George Herald is Duanne Singrew en Heinrich Jumat skuldig bevind.
Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring adv, Nicolette Bell, die Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolgings, verwelkom die skuldigbevinding, nadat die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het, al het die beskuldigdes onskuldig gepleit. Tydens die verhoor het die staat 19 getuies geroep, onder wie kenners en familielede. Getuienis het bewys die oorledene is ernstig aangerand, verwurg en daarna in ’n voertuig se kattebak gelaai. Haar liggaam is na ’n afgeleë gebied by Groot-Brakrivier geneem en daar in ’n kloof gegooi.
Die hof het ook gehoor dat die huwelik gekenmerk is deur herhaalde huishoudelike geweld. Verskeie sake is in die verlede by die polisie aangemeld en die paartjie het reeds vervreem geleef. Albei het ook beskermingsbevele teen mekaar gehad en egskeidingsverrigtinge was reeds aan die gang. Volgens getuienis het spanning toegeneem nadat die oorledene kort voor haar verdwyning ’n manlike kennis ontmoet het. Sy is laas op 21 November 2024 gesien en later as vermis aangemeld toe sy nie by die werk opgedaag het nie. Die polisie het die volgende dag begin ondersoek instel, waarna die twee mans vasgetrek is. Bewyse, insluitend bloedspore en tekens dat tonele skoongemaak is, het ’n belangrike rol in die saak gespeel. Die hof het bevind sy was reeds dood toe haar liggaam weggegooi is.
Duanne Singrew en Heinrich Jumat is skuldig bevind aan moord en regsverydeling. Vonnisoplegging sal op 7 April plaasvind.





