WES-KAAP. – Die Universiteit Stellenbosch (US) en die Kaapse Wynland-lughawe het ‘n samewerkingsooreenkoms onderteken. Die lughawe ondergaan tans ‘n beplande uitbreiding van sowat R8 miljard wat na verwagting meer as 35 000 direkte en indirekte werksgeleenthede tydens die boufase en meer as 100 000 werksgeleenthede oor die eerste 20 jaar van bedryf sal ondersteun.
Martin Viljoen, universiteitswoordvoerder en Deidre Davids van die Kaapse Wynland-lughawe sê die vennootskap is daarop gemik om navorsing, innovasie en vaardigheidsontwikkeling te bevorder ter ondersteuning van die lughawe se beplande uitbreiding. Die samewerking sal onder meer fokus op ingenieurswese, landbou, logistiek, ruimtelike beplanning, lugvaart en slim- en groen tegnologie. Studente sal ook geleenthede kry om by toegepaste navorsing en praktiese projekte betrokke te raak.
Die Kaapse Wynland-lughawe, voorheen bekend as die Fisantekraal-vliegveld, is sowat 13 kilometer noordoos van Durbanville geleë. Die vliegveld is in 1943 as ‘n Suid-Afrikaanse Lugmagbasis vir Lockheed Ventura-bomwerpers opgerig en is in 2020 herdoop. Dit dien tans as ‘n lughawe vir algemene lugvaart en vliegopleiding, met planne om dit in ‘n moderne, volhoubare lugvaart- en sakeknooppunt te ontwikkel.
“Hierdie inisiatief spreek direk tot die soort vennootskapgedrewe ontwikkeling waarin ons glo, waar infrastruktuur, innovasie en vaardighede saamkom om ’n werklike impak te maak. Die Kaapse Wynland-lughaweprojek bied ’n geleentheid om ’n dinamiese ekosisteem te bou wat ekonomiese groei kan ontsluit, opkomende bedrywe kan ondersteun en die streek as ’n spilpunt van innovasie en geleenthede kan posisioneer,” het prof. Deresh Ramjugernath, rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, gesê.
Deon Cloete, besturende direkteur van die Kaapse Wynland-lughawe, het gesê: “Hierdie samewerking is ’n belangrike mylpaal vir die lughawe. Die lughawe-uitbreiding bied ’n unieke langtermyngeleentheid om die akademie en die bedryf te verbind op ’n manier wat betekenisvolle ekonomiese en opvoedkundige impak het. Deur nou saam met die Universiteit Stellenbosch te werk, skep ons ’n platform om toekomsgerigte oplossings te ondersoek tot voordeel van die lugvaartsektor, studente en die breër streeksekonomie.”
Planne is aan die gang om uit te brei en ’n ultramoderne, groen, slim en innoverende lugvaartgebied te ontwikkel wat die Kaapse Wynland-lughawe as ’n moderne poort na die streek sal herdefinieer. Besoek capewinelands.aero vir meer inligting.





