LIMPOPO. – Francois Swart (39), ‘n sogenaamde vakansie-swendelaar van Fourways en die geïmpliseerde maatskappy Priority Escapes, het die polisie in Limpopo kort op sy hakke. Hy het glo vakansiemaatskappye in Modimolle (Nylstroom) uit groot bedrae geld bedrieg.
Brig. Hlulani Mashaba sê ‘n lasbrief vir Swart se inhegtenineming is uitgereik. Bedrogsake is in Augustus by Modimolle-polisiestasie geregistreer.
Na bewering het Swart as direkteur van die maatskappy bedrog gepleeg deurdat hy voornemende vakansiegangers se geld ontvang het deur vir hulle oor “gefinaliseerde vakansies” te lieg.
Volgens ‘n klaer is twee vakansiemaatskappye uit meer as R130 000 bedrieg. Die verdagte het glo volle betaling van voornemende vakansiegangers ontvang om vakansiereëlings namens hulle te maak. Swart het toe ook glo dokumentasie voorsien waarin vakansies as ten volle gereël en betaal aangedui was.
Mashaba sê daar is intussen vasgestel die dokumente is vervals.
Indien enigiemand weet waar Swart hom bevind, kan hulle AO Gawie Greef by 082 565 7800 bel.
Bron: SAPD
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel





