Vakbond veroordeel viktimisasie en boelie van werkers

Lees ook :

KIMBERLEY – Die nasionale onderwys-, gesondheid- en verwante werkersvakbond (Nehawu) in die Noord-Kaap neem kennis van die voortdurende afknouery en viktimisasie van lede en werkers by die Noord-Kaapse verbruikersbeskermingsowerheid, wat onder die departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme val.

Volgens ’n persverklaring deur Nehawu het die departement geen proaktiewe aksie geneem om die probleem op te klaar nie.

“Tot ons ontsteltenis het die departement ook nie gereageer op die uitkomste van die onafhanklike ondersoekverslag van 2017 wat ingestel is nadat ons lede en werkers gekla het oor die gedrag van die uitvoerende bestuurder van die provinsiale verbruikersbeskermingsowerheid nie. Ons lede kla al ‘n paar jaar oor die viktimisasie van personeel, voorkeurbehandeling en algemene swak bestuur van die instansie deur die bestuurder.”

“Ons vind dit vreemd dat die departement steeds daarop aandring om die bestuurder in sy posisie te hou nadat die ondersoekverslag ‘n somber prentjie op sy bestuursvermoë van die instelling geskilder het. In die verslag word opgemerk dat hy swak bestuursvaardighede gehad het en dat hy nie die instansie behoorlike kon bestuur nie. Boonop bemoei hy hom met die werk van inspekteurs, terwyl hy nie gereedskap verskaf nie, wat hul prestasiebeoordelings direk beïnvloed.”

Nehawu sê hulle het by verskeie geleenthede briewe aan die hoof van die departement se kantoor gerig, maar hulle versoek om die bestuurder te skors val op dowe ore.

“Dit het werknemers verder ontstoke omdat hulle glo die departement nie hul kommer en die welstand ernstig opneem nie. Indien daar niks binne die volgende 14 dae gedoen word nie, sal ons geen ander keuse hê as om ons lede vir ’n staking te mobiliseer nie,” sluit die persverklaring af.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief