GAUTENG. – Vier polisiebeamptes, verbonde aan die eenheid vir ernstige georganiseerde misdaadondersoeke, is Maandag saam met twee burgerlike personeellede in hegtenis geneem. Die inhegtenisnemings is deur die Valke se eenheid vir ernstige korrupsie-ondersoeke in Johannesburg uitgevoer. Die ses het vandag in die Johannesburg-landdroshof verskyn.
Die saak teen kapt. Letlhogonolo Andrew Molatlhegi (59), AO Mabutho Masina (46), konst. Mpho Irvyn Netshivhera (30), konst. Nhlamulo Matsilela (30), Simon Mapusi Rakuba (47) en Lebogang Tseto (41) is vir verdere ondersoek tot 4 Julie uitgestel. Die aangeklaagdes bly in aanhouding.
Brig. Thandi Mbambo, Valke-woordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits ‘n klaer het Maandagmiddag ‘n oproep van een van sy werknemers ontvang wat hom ingelig het dat polisielede by sy winkel is. Die klaer het glo sy werknemer gevra dat die polisielede moet wag totdat hy opdaag, maar met aankoms by sy winkel was dit gesluit.
Hy is na die Johannesburg-Sentraal-polisiekantoor waar hy meegedeel is sy werknemers is vir oortreding van die geldeenhedewet in hegtenis geneem. Die werknemer met wie hy in telefoniese kontak was, is ook vir inmenging van polisiepligte in hegtenis geneem. Die klaer het die aangeleentheid by die Valke se eenheid vir ernstige korrupsie-ondersoeke aangemeld. Hy het beweer dat die polisie R900 000 by sy winkel gevat het.
Ná ‘n ondersoek het die Valke bevind slegs 60 000 Amerikaanse dollar en R130 000 is ingehandig. Daar word verder beweer dat die verdagte wat die geld by die winkel wou ruil, die polisie glo met R60 000 probeer omkoop het. Hierdie R60 000 is ook ingehandig. Die inhandigings is beslagleggings wat in die polisie se bewysstukkeregister (SAP 13) aangeteken en dan as bewysstukke in die saak veilig bewaar word.
Ná ’n voorlopige ondersoek het die Valke die inligting opgevolg en is na Newtown waar die betrokke polisielede geïdentifiseer is. Die beweerde korrupte beamptes is in verskeie voertuie aangetref. Die Valke het die voertuie deursoek en ’n aansienlike hoeveelheid kontant in een van die voertuie gevind. Vier polisielede en twee burgerlikes is op die toneel in hegtenis geneem.
Mbambo sê die ses verdagtes verskyn op aanklagte van diefstal, besit van vermoedelik gesteelde geld, afpersing en korrupsie in die Johannesburg-landdroshof. Die klaer se ses werkers het ook in die hof verskyn en alle aanklagte is teen hulle teruggetrek.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com