LIMPOPO. – Kapt. Virginia Kupa (41), verbonde aan die Valke in KwaZulu-Natal, het op 24 Julie 2025 saam met brig. Mapome Mohajane (54) op ‘n aanklag van korrupsie in die Bela-Bela-landdroshof verskyn.
Brig. Thandi Mbambo, Valke-woordvoerder, sê in ‘n verklaring die saak spruit uit ’n voorval op 14 Januarie 2022 toe Kupa glo ’n ontmoeting tussen die klaer, ’n polisieman en Mohajane gereël het. Mohajane het glo die klaer gevra om met ’n strafregtelike ondersoek teen ’n raadslid in Limpopo in te meng en in ruil daarvoor voordele soos tenders, bevordering en toekomstige gunste aangebied.
Mohajane is op 15 Januarie 2025 in hegtenis geneem. Verdere ondersoek het tot Kupta se inhegtenisneming gelei. Sy is op borgtog van R3 000 vrygelaat. Die saak is vir verdere ondersoek tot 26 Augustus uitgestel.





