OOS-KAAP. – Alize van der Merwe (39) het Vrydag omstreeks 11:30 laas kontak met haar familie gehad. Omstreeks 15:13 het haar familie ‘n oproep ontvang om te sê sy is ontvoer.
AO Mhlakuvana Ndiphiwe, woordvoerder vir die Valke in die provinsie, het aan Nuusflits bevestig ‘n slagoffer is glo Vrydag omstreeks 13:00 ontvoer.
“Daar word beweer dat die slagoffer met ‘n Toyota Fortuner in die rigting van die Umngazi-oord in Port St Johns gery het waar sy deur onbekende verdagtes ontvoer is. Haar voertuig is glo nie ver van die oord af nie, verlate gevind.”
Ndiphiwe sê die familie het ‘n oproep van verdagtes wat ‘n losprys eis, ontvang.
“Die slagoffer is nog nie gevind nie. ‘n Ontvoeringsaak word deur die Valke ondersoek en die polisie werk 24 uur per dag om die slagoffer ongedeerd te red.”
Enigiemand met inligting wat die polisie in hulle ondersoek kan help, word gevra om na vore te kom.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
Alize van der Merwe het Vrydag omstreeks 11:30 laas kontak met haar familie gehad. Omstreeks 15:13 het haar familie ‘n oproep ontvang om te sê sy is ontvoer.
Mike Bolhuis van Specialised Security Services sê Van der Merwe het in ‘n gehuurde wit Toyota Fourtuner met registrasienommer LX 73 KLGP, wat sy by Hertz Vehicle Hire gehuur het, gereis. Van der Merwe was alleen en onderweg na die Umngazi-oord.
Tydens haar laaste kommunikasie het sy vir haar familie gesê sy beplan om by die Shell Ultra City op die N2-hoofweg in Mthatha stil te hou.
Bolhuis sê daar is geen ander inligting met die oproep gedeel nie.
“Opsporingsdata dui daarop dat die voertuig verlate is tussen Dumasi en Umngazi-oord.”
Enigiemand met inligting oor Van der Merwe word gevra om Chris Coetser van Specialised Security Services by 082 457 4007, of Antoinette Coetser by 082 319 4751 te bel. Inligting kan ook per e-pos na chrisc@mikebolhuis.co.za of antoinettec@mikebolhuis.co.za gestuur word.