WES-KAAP. – Ferdinand Fortuin is deur die Bellville-streekhof tot vyf jaar direkte gevangenisstraf gevonnis. Fortuin het op 11 November 2024 valslik beweer dat hy plofstof by twee kantore van die departement van water en sanitasie, die Transnet Park-gebou en die Bellville-taxistaanplek geplaas het.
Eric Ntabazalilla, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring die dreigemente het tot die ontplooiing van staatsbronne en die ontruiming van sowat 3 565 mense, asook die sluiting van paaie in Bellville, gelei. Fortuin het erken hy het die oproepe gemaak nadat hy die vorige dag swaar gedrink het en nie werk toe wou gaan nie.
In sy pleit-en-vonnisooreenkoms het Fortuin erken dat hy ’n selfoon by ’n dwelmgebruiker gekoop het en vals oproepe aan die polisie en ’n tolvrye noodnommer oor plofstof in die geboue, insluitend die een waar hy gewerk het, gemaak het. Hy het ondanks sy oproepe sy huis in Mamre verlaat met die hoop dat die paaie weens sy bomdreigemente na Bellville gesluit sou wees. Dit het nie gebeur nie en hy het die hele dag gewerk.
Hy is op drie aanklagte ingevolge die wet op die beskerming van grondwetlike demokrasie teen terrorisme en verwante aktiwiteite skuldig bevind. Die NVG het die vonnis verwelkom en gewaarsku dat soortgelyke dreigemente streng vervolg sal word.





