Vasgevang in ’n ander land

Lees ook :

Chris Maasz (35) IS in Februarie vanjaar oorsee om vir sy familie ’n beter lewe te maak. Sy vrou, Charlee Maasz (29), het in Kimberley agtergebly en sedert die internasionale Covid-19-pandemie aangekondig is, kan hy nie na Suid-Afrika terugkeer nie.

Charlee

Hoe lank is julle al getroud?
“Ons is nou sewe jaar getroud. Ons het in 2013 getrou en is al van 2009 af saam.”

Waar oorsee is Chris tans?
“Hy is in La Ciotat, Frankryk.”

Waarom is hy oorsee?
“Chris het oorsee gegaan om ’n beter lewe vir sy familie te probeer maak. Hy is La Ciotat toe om vir een van ons vriende te gaan kuier. Met dié wat hy daar gekom het , het ons vriend vir hom die skepe gewys en aan ’n paar kapteins voorgestel. Daar het hy op een van die skepe as ’n dagwerker begin.”

 Hoe het dit gebeur dat hy daar moes bly?
“Toe die lockdown aangekondig word, wou ons hê hy moes terugkeer huis toe, maar sy vlug was gekanselleer.”

Hoe ervaar jy dit met jou man wat so ver is?
“Dit is baie moeilik met Chris wat so ver is. Chané (5), ons dogtertjie, hanteer dit die ergste, want sy soek haar pappa en vra baie wanneer kom hy huis toe. Ons praat darem elke dag met mekaar. Dit is vir my moeilik om te dink ek kan hom nie in hierdie moeilike tyd bystaan nie, maar ek probeer alles om hom van dié kant af te ondersteun.”

Het dit ’n impak op julle finansies en verhouding?
“Dit het ’n groot impak nou op ons finansies. As gevolg van die virus kan Chris nie werk nie, so hy kan nie vir my geld stuur om by te dra met alles nie. Sover het ek nog nie vasgebrand nie en is dankbaar daarvoor. Ek en Chané bly tans by my ouers omdat dit veiliger is vir ons en omdat dit moeilik is om op my salaris ’n plekkie te kan bekostig. My ouers ondersteun ons vreeslik baie, dit is wonderlik om sulke ouers te hê.”

Chris

Hoe ervaar jy dit so ver van jou Familie af?
“Dit is nie lekker om so ver van almal wat ek ken af te wees nie. Veral my vrou en kind. Ek is alleen hier en als is nog bietjie vreemd vir my. Ek het maar hier en daar vriende gemaak, veral  met Suid Afrikaners. Hier is baie Suid-Afrikaners in hierdie bedryf. Ek mis vir Charlee en my klein prinsessie daar by die huis vreeslik baie. Met dié wat ons nie regtig mag rondbeweeg nie, raak my woonstel maar te klein . Dit help darem dat ek elke dag met my familie kan praat.”

Hoe bly julle in kontak?
“Ons bly in kontak met Whatsapp-boodskappe en video-oproepe.”

Hoe is die lockdown anders daar as in SA?
“Ek weet nie regtig hoe dinge daar by julle is nie, ek hoor maar net wat mense sê en sien wat gebeur op Facebook. Wat ek self beleef het, word dinge hier beter hanteer. Die polisie hier is baie streng en ferm. Hulle het my al gestop en as jy nie die nodige papierwerk het nie, is jy in die moeilikheid. Baie mense hier gaan draf en loop met hul honde sonder enige probleme. Jy word nie toegesluit of sleggesê deur ’n polisiebeampte nie en niemand hier sal dit waag om trokke met goedere te kaap en te beroof nie. Verder dink ek dit is maar dieselfde oral.”

Mag jy werk?
“Op die oomblik mag ek nie werk nie, want ek het nie ’n permanente pos op ’n boot nie. So die oortollige mense moes maar by die huis gaan sit of teruggaan daar waar hulle vandaan kom tot als verby is. Selfs baie van die permanente mense is afgedank of huis toe gestuur teen verminderde salaris. Hopelik kan ons op die 11de Mei weer begin werk.”

Kan jy vir ons  ’n kort video, paar sekondes, stuur van hoe dit tans in jou straat lyk?

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App