GAUTENG. – Tshifiwa Matodzi (47), die voormalige voorsitter van die ontbinde VBS Mutual Bank en meesterbrein agter die ineenstorting daarvan, is tot 495 jaar tronkstraf gevonnis. Matodzi sal 15 jaar in die tronk deurbring.
Die ineenstorting was as gevolg van ‘n verlies van meer as R2.2 bn. deur onwettige aksies.
Kol. Katlego Mogale, woordvoerder vir die Valke, sê Matodzi het op 33 aanklagte van korrupsie, diefstal, bedrog, geldwassery en rampokkery skuldig gepleit. Matodzi het ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan waarvolgens hy tot 495 jaar gevonnis is. Dit is 15 jaar tronkstraf op elk van die 33 aanklagte.
Die hof het egter beveel die vonnisse vir aanklagte 2 tot 33 moet gelyktydig met dié van aanklag 1 uitgedien word. Matodzi sal slegs 15 jaar in die tronk uitdien. Hy is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Lt.genl. Lebeya, die nasionale hoof van die Valke, sê: “Hierdie vonnis is ‘n bewys van die onwrikbare toewyding en uitsonderlike vaardighede van ons span. Ons het altyd volgehou dat ons geen steen onaangeroer sal laat in ons strewe na geregtigheid nie en hierdie uitkoms versterk ons vasberadenheid. Laat dit dien as ‘n streng waarskuwing vir diegene wat glo dat hulle die lang arm van die wet kan ontsnap. Die DPCI sal nie toegee in sy missie om misdadigers voor die gereg te bring nie. Ons is aktief besig om ander verdagtes in hierdie saak te ondersoek en hulle sal ook deur die volle mag van die reg in die gesig gestaar word.”
Die voorverhoor sal op 22 Julie begin.






