Simon Jack (22), ’n veewagter van Zastron, het ’n paar weke gelede nog net daarvan gedroom om vir ’n rugbyspan uit te draf.
Op die plaas
Sy droom het egter in ’n oogwink waar geword toe ’n boer en ook ’n joernalis van Volksblad, Charles Smith, hom in Desember raakgesien het. Smith boer in die Rouxville-distrik. “Dit was ’n paar dae voor Kersfees. Ek het op die plaaspad gery en hierdie jong man langs die pad gesien staan,” vertel Smith aan FiND iT. “Sy twee honde het glo agter ’n trok aangehardloop en ek het gesê ek sal hom help om hulle te soek.”
Leer ken Simon
Charles het vir Simon begin uitvra oor sy lewe. En ook uitgevra oor die rugbytrui wat hy aangehad het op daardie stadium. Simon het aan Charles vertel dat hy honger is en ook dat hy in ’n hut bly sonder enige elektrisiteit. Hy het as ’n veewagter op die plaas, Kleindam, gewerk. Simon het ook laat val dat hy op hoërskool rugby gespeel het en dat dit ’n droom van hom is om weer rugby te speel.
Berig in Volksblad
Net na nuwe jaar het Charles ’n berig in die Volksblad geplaas oor hierdie jong man wat graag wil rugby speel. “Die artikel het geweldig baie reaksie uitgelok,” vertel Charles. “Drie rugbyklubs het hom genader om vir hulle te kom speel.”
Kimberley rugby-klub
Simon is sedert begin Februarie deel van die Kimberley-klub waar hy uitdraf as vleuel. “Simon oefen baie hard. Hy het ook aangesluit by die gym waar hy twee keer ’n dag oefen,” vertel Pieter Streak, afrigter van die span. “Hy het goed aangepas by die span en oefening.”
Werk
Nie net het daar vir hom ’n rugbygeleentheid oopgegaan nie, maar Giele van Zyl, eienaar van van Zylvleis-slaghuis, het ook vir hom ’n werk aangebied. “Hy word nou opgelei as ’n blokman,” vertel Pieter wat ook werk by dié slaghuis.
“Ek wil op TV wees”
Simon sê hy was baie happy gewees toe hy hoor hy kom Kimberley toe en gaan hier kom rugby speel. “My droom is om eendag om die televisie te speel.”