MPUMALANGA. – Altesaam 14 veiligheidsbeamptes wat betrap is dat hulle glo in besit is van bedrieglike en ongeregistreerde vuurwapenbevoegdheidsertifikate, het reeds in die hof verskyn. Nog verdagtes moet in die hof verskyn.
Lt. kol. Magonseni Nkosi sê: “Vuurwapenbevoegdheidsertifikate word deur die wet vereis om te sertifiseer dat individue behoorlik opgelei en gekwalifiseer is om vuurwapens veilig en verantwoordelik te hanteer.”
Die Valke in Nelspruit, die prioriteitsmisdaadsentrum (PCMC) en ‘n privaat veiligheidsmaatskappy het ‘n ondersoek geloods wat daartoe gelei het dat 21 veiligheidspersoneellede (verdagtes) gedagvaar is om in die hof te verskyn. Hulle is in besit van bedrieglike bevoegdheidsertifikate betrap wat hulle gedurende Februarie 2024 bekom het. Drie verskillende hofdatums is aan die verdagtes gegee.
Nkosi sê die eerste groep van sewe verdagtes het op 17 Januarie in die hof voorgekom, terwyl die tweede groep van sewe verdagtes Vrydag in die hof verskyn het. Al 14 die beskuldigdes is deur die hof vrygelaat en gewaarsku om weer op 7 Februarie in die hof te wees.
Die derde groep van ses verdagtes sal op 31 Januarie in die Nelspruit-landdroshof voorkom. ‘n Sewende verdagte het gesterf. Die meesterbreine agter die bedrieglike aktiwiteite, twee vroue en ‘n man, sal ook vir ‘n hofverskyning gedagvaar word wanneer ‘n datum vasgestel is.
“Die ondersoek is geprioritiseer om die veiligheid van die inwoners van Suid-Afrika te verseker deur nie toe te laat dat vuurwapens in die verkeerde hande is nie. Dat die vuurwapens in die hande gaan wees van mense wat toevertrou is om veiligheid en sekuriteit aan menselewens en eiendom te bied, is een van die vele redes waarom die ondersoek prioriteitaandag geniet het.”





