MPUMALANGA. – Thandi Ruth Mamagula (40), ‘n veiligheidsrisikobestuurder van Eskom, is Vrydag vir beweerde bedrog en geldwassery deur die Valke in Middelburg, Mpumalanga, in hegtenis geneem en is borg toegestaan.
Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi sê na bewering was Mamagula in die tydperk, vanaf April 2013 tot Julie 2015, toe sy as veiligheidsrisikobestuurder vir Eskom aangestel was, ook direkteur van Motoza Engineering en Project 9. Dié maatskappy het dienste aan Eskom gelewer.
Tydens ‘n ondersoek van die spesiale ondersoekeenheid (SIU) is ontdek die verdagte het glo nie die konflik van belange verklaar nie. Die ondersoek is daarna na die Valke oorgeplaas.
Sekgotodi sê die Valke se ondersoek het aan die lig gebring die verdagte het glo ‘n wanvoorstelling op haar verklaringsvorms en tenderdokumente gemaak deur te sê sy doen met Eskom sake, terwyl dit in der waarheid haar maatskappy was wat aan Eskom ‘n diens gelewer het. Dit het glo vir Eskom ‘n verlies van R58 888.76 veroorsaak.
Die gefinaliseerde ondersoek is vir ‘n besluit vir vervolging na die openbare vervolger verwys. ‘n Lasbrief vir inhegtenisneming is Vrydag uitgereik en uitgevoer.
Borg van R10 000 is in die hof aan Mamagula toegestaan. Die saak is deur die gespesialiseerde kommersiële misdaadhof in tot 26 Maart uitgestel.
Volg Nuusflits se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.





