VRYSTAAT. – ‘n Veiligheidswag (56) het gesterf nadat daar Dinsdagoggend tydens ‘n betreding oor-en-weer op die plaas Marman in die Fouriesburg-gebied geskiet is. ‘n Boer is gewond en ‘n ongedokumenteerde persoon (25) ook met skietwonde, is in hegtenis geneem.
AO Mmako Mophiring sê na bewering is die veiligheidswag na ‘n klagte van betreding ontbied. Hy is volgens vermoede deur die verdagte ontwapen. Die veiligheidswag is met ‘n skietwond in die nek en magasyn met ammunisie langs hom op die grond aangetref. Meer boere is gemobiliseer en het na die verdagte gesoek. Die verdagte het glo na die boere geskiet en oor-en-weer-skietery het ontstaan. Een van die boere is in die heup getref en die verdagte in die linkerbeen.
Daar is met die boer na ‘n hospitaal in Bethlehem gehaas. Die verdagte is ook tans onder polisiebewaking in ‘n Bethlehemse hospitaal. ‘n Ongelisensieerde vuurwapen is glo in die verdagte se besit gevind en hy is op aanklag van moord, twee aanklagte van poging tot moord, roof van ‘n vuurwapen, die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen, asook oortreding van die wet op immigrasie gearresteer.
Mophiring sê afhangend van die buitelandse verdagte se herstel, sal hy na verwagting op die aanklagte teen hom in die Fouriesburg-landdroshof voorkom.





