Videokrediet: Crime Watch Channel
KWAZULU-NATAL. – Vyf veiligheidswagte is vanoggend geskiet waar hulle in Gillhamstraat in Phoenix aan diens was. Vier is op die toneel dood verklaar.
Kol. Robert Netshiunda sê ‘n soektog na vier verdagtes is van stapel gestuur.
Netshiunda sê volgens inligting het die verdagtes uit ‘n rooi Toyota Tazz geklim en lukraak na die veiligheidswagte by ‘n kantoor geskiet. Die vyfde veiligheidswag is met skietwonde na ‘n hospitaal gehaas.
“Dit is nog nie duidelik watter soort besigheidsaktiwiteit by die kantoor waar die skietery plaasgevind het, gedoen word nie. Daar word ook vermoed dat die verdagtes die slagoffers van hul vuurwapens beroof het voordat hulle van die toneel gevlug het.”
Die polisie vra enigiemand met inligting oor die voorval om na vore te kom.




