GAUTENG. – Die onderwysdepartement in die provinsie het sy vennootskap met Nal’ibali met onmiddellike effek gestaak nadat ‘n gr.3-leerling van Laerskool Braamfischerville glo seksueel aangerand is. Die beweerde verdagte is egter nie ‘n werknemer van die onderwysdepartement nie.
Steve Mabona, die woordvoerder vir die Gautengse onderwysdepartement, sê die insident het na bewering op 24 Maart plaasgevind en is die volgende dag deur die leerling se ouer onder die skool se aandag gebring. Die beweerde verdagte is deur die organisasie ontslaan en is op 28 Maart gearresteer. Sy borgverhoor sal op 14 April plaasvind.
Die skoolbeheerliggaam is op ‘n vergadering van die gebeure ingelig en daar sal Saterdag ‘n vergadering met die ouers van die skool gehou word om hulle oor die veiligheid van leerlinge in te lig.
Mabona sê die insident het onder die departement se aandag gekom terwyl die probleem van seksuele wangedrag in skole aangespreek word. Tot op hede is 42 sake van seksuele wangedrag in Gauteng by die departement aangemeld, waarvan 19 gefinaliseer is. 11 werknemers is ontslaan, vier is onskuldig bevind, twee sake is weens onvoldoende bewyse onttrek, een werknemer het bedank en een het uit diens getree.
Altesaam 23 uitstaande sake wag op afhandeling – 15 is in verskeie stadiums van dissiplinêre verhore en agt word steeds ondersoek. In al die gevalle is die geïmpliseerde individue as voorsorgmaatreël óf geskors, óf na die distrikskantoor oorgeplaas, terwyl op die uitkoms van die saak gewag word.
Nal’ibali is ‘n nasionale lees-vir-genot-veldtog waarmee die onderwysdepartement in die provinsie ‘n vennootskap gehad het. Die doel was om kinders se potensiaal deur storievertel en lees aan te wakker.
“Dit moet beklemtoon word dat die departement ‘n ondersoek gedoen het van alle bestaande skoolgebaseerde werknemers en nuutaangestelde werknemers,” bevestig Mabona.
Matome Chiloane, die LUR vir onderwys in Gauteng, sê: “Dit is inderdaad ‘n uiters ontstellende voorval. Kinders moet nooit sulke wreedheid ervaar deur sommige volwassenes wat veronderstel is om te help om hulle te ontwikkel en te versorg nie. Ons bly daartoe verbind om ‘n veilige omgewing vir alle leerders te skep en sal voortgaan om met wetstoepassingsagentskappe en relevante vennote saam te werk om te verseker dat voorvalle van hierdie aard vinnig en deursigtig hanteer word.”
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





