GAUTENG. – ‘n Verbeurdverklaringsbevel ter waarde van R144 miljoen is deur die Pretoria-hooggeregshof aan die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se batebeslagleggingseenheid toegestaan om staatsgrond terug te vorder wat onwettig aan individue en besighede oorgedra is.
Luidens ‘n verklaring deur Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder het ‘n ondersoek deur die spesiale ondersoekeenheid onthul verskeie regeringspersele, insluitend plaas 405 Randjesfontein (R130 m.), erf 170 Hurlingham (R60 m.) en Erf Hyde Park (R8,1 m.), bedrieglik uit die nasionale regering se naam na dié van privaat entiteite oorgedra. Die benadeling van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming beloop meer as R144 m.
Die hofbevel sluit ook geld in verskeie bankrekeninge van betrokke individue en entiteite in. Hierdie geld sal in die kriminele bateverhalingsrekening (CARA) gestort word om die stryd teen misdaad te versterk. Die betrokke eiendomme sal aan die staat terugbesorg word.





