Brekende Nuus
Afrikaans

Verbeurdverklaringsbevele teen beweerde meesterbreine van onwettige mynery verseker

'n Sindikaat wat met onwerwerkte goud handel dryf, is geïnfiltreer.

Foto: Ter illustrasie Canva
Foto: Ter illustrasie Canva

GAUTENG. – Die batebeslagleggingseenheid van Pretoria het op 20 Maart drie verbeurdverklaringsbevele van R18 m. in die hooggeregshof verseker.

Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG, sê die verbeurdverklaring is gemaak op eiendomme wat aan Bethuel Ngobeni, Lerato Bathebeng, Poppy Mathongwane, Bongani Khumalo, Dumisani Moyo, Kesitaal Pty BPK (‘n maatskappy wat aan Moyo behoort), Nhlanhla Leon Magwaca, Neo Susan Duba, Tsepo Dube, Itumeleng Rejoice Magagane, Gloria Kgalalelo Magagane, Mlambo, Nhlanhla Mathebula, Manuel Nhamucho en Thabiso Sechele, behoort.

Die eiendomme is bekom uit wins van onwettige aktiwiteite van ‘n sindikaat wat in die Khutsong-area en Carletonville met onbewerkte goud handel dryf. ‘n Finale verbeurdverklaringsbevel is op 51 voertuie en sewe eiendomme in Khutsong, Carletonville, Potchefstroom en Krugersdorp, asook 16 bankrekeninge, uitgereik.

Die bevel kom nadat Projek Gilette in 2018 deur die ondersoekdirektoraat vir prioriteitsmisdade (DPCI) geregistreer is. ‘n Sindikaat wat met onwerwerkte goud handel dryf, is geïnfiltreer. Die misdaad behels die onwettige aankoop van gouddraende materiaal (amalgaam) van wettige mywerkers, maar ook van onwettige zama-zamas. Van daar is die materiaal in goudstukke (nuggets) geprosesseer en dan in en rondom Johannesburg verkoop.

Die hoofaankopers is steeds onbekend, maar die sindikaat bestaan hoofsaaklik uit buitelandse burgers van Zimbabwe en Mosambiek. Mahanjana sê sommige van die sindikaatlede het onwettig Suid-Afrikaanse ID’s bekom.

Na die verbeurdverklaring sal die eiendom op ‘n openbare veiling verkoop word en die geld dan in die Kriminele Bateherwinningsrekening inbetaal word.

Die hofsaak teen die nege verdagtes wat op aanklagte van geldwassery en rampokkery in die hof sal verskyn, begin op 24 Julie in die hooggeregshof in Pretoria nadat dit van die Oberholzer-landdroshof oorgeplaas is.

“These forfeiture orders are part of the implementation of the Asset Forfeiture Unit’s asset recovery strategy to claim the proceeds of criminal activities back to the state. The overall National Anti-Corruption strategy by law enforcement agencies is to strengthen the fight against corruption by pursuing both civil and criminal processes to ensure that impunity is no longer a given.”