VRYSTAAT. – Verbrande menslike oorskot wat in ‘n ou mynskag van die Harmony-myn gevind is, is positief verbind aan die vermiste Thato Tumahole, ‘n gr. 12-leerder van Hoërskool Welkom.
Brig. Motantsi Makhele sê die forensiese resultate het bevestig die oorskot is inderdaad dié van Tumahole. Meer aanklagte van moord en regsverydeling sowel as lykskending is teen Mamello Katleho Seape (22) aanhangig gemaak.
Seape sal op 7 Junie vir ‘n amptelike borgaansoek in die Welkom-landdroshof verskyn.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
Verbrande menslike oorskot is ondergronds by ‘n ou mynskag van Harmony-myn in Welkom uitgehaal. Dit sal forensies getoets word om vas te stel of dit aan die vermiste meisie Thato Tumahole (19) behoort.
Brig. Motantsi Makhele sê ‘n mynreddingspan en Welkom-honde-eenheid is vanoggend om 08:00 na die skag. Die span het die verbrande menslike oorskot ondergronds uitgehaal. Die oorskot sal forensies ontleed word om die identiteit te bepaal.
Soos voorheen berig, is die vermiste meisie laas op 10 Mei gesien toe sy haar huis in Rheederspark in Welkom verlaat het en sedertdien tevergeefs na haar gesoek is. ‘n Saak van ‘n vermiste persoon is geregistreer en word steeds ondersoek. Tomahole se kêrel (22) is intussen op 16 Mei in hegtenis geneem en het op 20 Mei in die Welkom-landdroshof verskyn. Die saak is vir borgaansoek tot 27 Mei uitgestel. Op sosiale media is in video’s beweer Tumahole het gesterf.
Makhele vra dat spekulasie gestop moet word.