GAUTENG. – ‘n Verdagte is vandag (Dinsdag) in hegtenis geneem na ‘n man en vrou Maandagaand tydens ‘n huisroof gesterf het. Die verdagte het glo huisverkopers geteiken en dan beroof.
Kapt. Johan van Dyk sê aan Nuusflits Lyttelton-speurtak het vasgestel die verdagte se modus operandi is na bewering om huise wat as te koop aangebied word, te identifiseer en dan die eienaar as ‘n voornemende koper te kontak.
Die verdagte het glo Maandag gereël om die huiseienaar te ontmoet. In die huis het die verdagte, bewapen met ‘n vuurwapen en messe, sy roofplan uitgevoer. Die inwoners het terugbaklei en is noodlottig gesteek. Albei het weens steekwonde op die toneel gesterf.
Gemeenskapslede, die GPF en privaat veiligheidsmaatskappye is dadelik saam met die polisie na die toneel waar forensiese spanne die area vir bewyse gefynkam het.
Van Dyk sê die Lyttelton-polisie het Dinsdag inligting oor die verdagte ontvang, wat opgevolg is. Uniformlede en speurders het vinnig reageer en ‘n observasie-operasie geloods. Nadat die verdagte gevind is, is ‘n taktiese plan uitgevoer en hy is gearresteer. Die polisiebeamptes is daarna na ‘n huis waar die verdagte woon, geneem.
By die huis het die polisie die voertuig wat in die uitvoering van die misdaad gebruik is, gekonfiskeer. ‘n Vuurwapen, die messe, bloedbevlekte klere en kabelbinders wat gebruik is om die slagoffers vas te bind, asook gesteelde eiendom vanaf die misdaadtoneel, is in die huis gevind. Forensiese deskundiges het die teruggevinde items op die arrestasietoneel ingesamel.
Die verdagte sal op aanklagte van twee moorde, twee aanklagte van poging tot moord, huisroof, die besit van gesteelde eiendom en die besit van gevaarlike wapens wat in die uitvoering van ‘n misdaad gebruik is, in die Pretoria-landdroshof verskyn.
Brig. Kushie Pietersen, die waarnemende distrikskommissaris, het polisielede vir die suksesvolle inhegtenisneming geprys. Ian Cameron het ook Lyttelton-polisiestasie met uitmuntende werk gelukgewens.
AfriForum Centurion sê tydens die arrestasie het die polisie ‘n blou Nissan X Trail, ‘n Astra 357 Magnum-rewolwer, twee messe, sleutels van ‘n Honda-motor, pepersproei, ‘n skokstok, bloedbevlekte klere en kabelbinders gevind.