KWAZULU-NATAL. – ‘n Verdagte (24) is Sondag deur die gemeenskap in Trenance Park beetgekry en aangerand. Dit was nadat hy glo ‘n huiseienaar met ‘n mes wou steek.
Reaction Unit South Africa sê reaksiebeamptes het omstreeks 11:30 op die toneel in Hemlock End aangekom. Na bewering het die verdagte, vermoedelik ‘n dwelmverslaafde, die eiendom binnegegaan en was op die punt om ‘n buitelig te steel toe die eienaar hom konfronteer het. Hy wou die eienaar glo steek en die gemeenskap, wat gehoor het “iets” is aan die gang, het hulle na die toneel gehaas. Die verdagte is aangerand. Die gemeenskap het by die reaksiebeampte gekla die beweerde verdagte betree hulle erwe en steel koperpype en ligte waarna dit verkoop word vir dwelms.
Rusa sê die verdagte is moontlik aan verskeie diefstalle in die area gekoppel.
Die verdagte is in arres geplaas en aan die polisie oorhandig.





