KWAZULU-NATAL. – ‘n Verdagte is vanoggend vroeg noodlottig gewond en ‘n polisielid is beseer toe ‘n skietery omstreeks 01:30 in Cato Manor uitgebreek het.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê hulle paramedici is na die toneel van die skietery. Die area was afgekordon en die polisie en veiligheidspersoneel was teenwoordig.
“Paramedici het ’n vermeende verdagte wat verskeie skietwonde opgedoen het, aangetref wat op die toneel dood verklaar is,” het hy bygevoeg.
‘n Polisielid is beseer nadat ‘n koeël sy koeëlvastebaadjie getref het.
“Gelukkig is die koeël gestop, maar die pasiënt is behandel en hospitaal toe geneem vir geringe beserings.”
Jamieson het bevestig die polisie stel verder ondersoek in.
Nuusflits het polisiekommentaar gevra.
Volgens eNCA beriggewing was die verdagte gesoek vir die moord, nadat ‘n pa doodgeskiet en sy vrou geskiet is waar hulle kleuterdogter (3) teenwoordig was.





