OOS-KAAP. – ‘n Verdagte is Woensdag omstreeks 11:45 noodlottig gewond toe verskeie eenhede van die polisie inligting opgevolg het. Dit volg nadat vyf mans Dinsdagaand doodgeskiet aangetref is.
AO Majola Nkohli sê die polisie het inligting opgevolg wat na ‘n verdagte in ‘n huis in Tsewustraat in New Brighton gelei het. Na bewering het lede die verdagte aangetref, reg om op hulle te skiet, toe hulle die huis takties betree het. Die lede het geskiet en die verdagte noodlottig in sy bolyf gewond. ‘n Glock-pistool en ammunisie is gekonfiskeer. ‘n Geregtelike doodsondersoek is geregistreer.
Die polisie is Dinsdagaand omstreeks 21:30 na ‘n klagte van ‘n skietery in Chris Hani- informele nedersetting in New Brighton ontbied. Met aankoms op die toneel is vyf mans se liggame met veelvuldige skietwonde in ‘n shack aangetref.
Die oorledenes se name sal bekend gemaak word wanneer ‘n formele identifikasieproses afgehandel is.





