LIMPOPO. – ‘n Polisiesersant en ‘n moontlik verdagte gemeenskapslid is Saterdag beseer toe ‘n oproerige vigilante groep by Hoërskool Mamehlabe op hulle toegesak het.
Kol. Malesela Ledwaba sê die groep het ‘n man met verskeie voorwerpe aangerand in die insident wat ten sterkste veroordeel word. Die polisie is met klippe op die toneel bestook nadat hulle ‘n klagte oor die oproerigheid ontvang het. Hulle voertuig is ook beskadig. Die polisielede het die situasie onder beheer gebring en die groep het uiteengegaan. Die beseerde man kon gered word en is deur nooddienste vir mediese hulp na ‘n plaaslike hospitaal vervoer.
Voorlopige ondersoek dui aan die slagoffer is saam met twee ander mans gevang waar hulle glo by die betrokke skool gesteel het. Die slagoffer is aangekeer, maar twee kon in ‘n Nissan 14:00 vlug. Die bakkie is later verlate gevind.
“Terwyl die polisie op die voorval reageer het, is ‘n verdagte voertuig opgemerk en daar is probeer om dit voor te keer, maar dit het teen ‘n heining naby die pad gebots. Die bestuurder en sy passasier het uitgespring en die bosse ingehardloop. Die polisie het op die voertuig beslag gelê, waarna ‘n saak vir verdere ondersoek geopen is.”
Lt.genl. Thembi Hadebe het die vigilante optrede van gemeenskapslede wat die reg in eie hande neem, veroordeel en vra die gemeenskap om misdadigers aan die polisie aan te meld.
Enigiemand met relevante inligting om die ondersoek by te staan, kan speur. sers. Tlou Magway by 082 414 3314 bel.





