LIMPOPO. – Die polisie is op soek na ‘n verdagte wat ‘n Rooms-Katolieke priester, geïdentifiseer as William Banda (38), op 13 Maart omstreeks 07:00 by ‘n kerk in Aquapark, Tzaneen, doodgeskiet het.
Lt.kol. Stephen Thakeng sê die moord-en-roofeenheid het ‘n identikit vir die moordverdagte uitgereik. Na bewering was die priester met ‘n gebedsessie saam met lede van die kerk besig toe die verdagte instap en langs die priester gaan sit. Toe die priester na ‘n aantrekkamer beweeg, is die verdagte agterna. Die priester is twee keer in sy kop geskiet voordat die verdagte met ‘n motor van die toneel gevlug het.
Die verdagte het tydens die moord ‘n swart langbroek, bruin hemp en ‘n baadjie aangehad.
Enigiemand met relevante inligting word gevra om kol. Richard Boshomane by 079 894 5501 of AO Phaladi Makola by 082 749 2233 te bel.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





