WES-KAAP. – ‘n Verdagte (44) is Woensdag op aanklag vir die besit van dwelms en die oortreding van die Wet op Edelmetale en die Wet op die Finansiële Intelligensiesentrum (Fica) in hegtenis geneem.
Kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die inhegtenisneming is danksy waarksaamheid van die misdaadvoorkomingseenheid gemaak. Die polisielede het ‘n wenk gekry oor ‘n voertuig wat glo dwelms vervoer en in die rigting van Malmesbury ry. Die voertuig is op die N7, op pad na Moorreesburg, onderskep en die verdagte na die polisiekantoor geneem en deursoek.
“Tydens die soektog is ’n klein hoeveelheid kokaïen, vier klein goudklippies en kontant ter waarde van R141 280 in die voertuig se paneelbord versteek gevind. Die verdagte kon geen verduideliking hiervoor gee nie en is in hegtenis geneem,” het Van Wyk gesê.
Die verdagte sal na verwagting in die Malmesbury-landdroshof voorkom sodra hy aangekla is.