BRANDVLEI, NOORD-KAAP. – Shupren Ouers (19), die verdagte in die moord op Hesty-Ann Green (18), is Vrydag R2 000 borg toegestaan.
Hy mag nie met getuies in aanraking kom of hulle intimideer nie.
Green se naakte liggaam is op 31 Desember 2023 in ’n verlate kleuterskoolbouval ontdek nadat sy die vorige nag by ’n partytjie was. Green is op 8 Januarie by sy werksplek in Kaapstad in hegtenis geneem.
Volgens Nikolas Swartz, Green se oom, is hulle baie ongelukkig oor die borgtog. “Die familie voel baie ongelukkig oor die toestaan van die borg. Ons weet ook dat hy geregtig is op dit volgens wetgewing.”
Hy meen hulle is tans in die duisternis oor wat regtig aangaan en hoe ver die ondersoek vorder. “Ons as familie is steeds seer en rou van binne. Niks kan die pyn en verlange stilmaak na Hesty-Ann se heengaan nie.”
Ouers se volgende hofverskyning is op 21 Mei 2024.
Nuusflits het só oor haar moord berig.
Bronne: Isaac Cloete Facebook-blad, Nikolas Swartz





