KAAPSTAD. – ’n Man is Saterdag in Samora Machel in hegtenis geneem nadat hy na bewering sy meisie, Busisiwe Mthethwa (56), vermoor en haar opgekapte liggaamsdele in ’n vrieskas gesit het.
Die verdagte, Brian Miripiri, het aan die slagoffer se familie vertel sy is na die Oos-Kaap na ander familielede toe. Mthethwa se bure het die familie later in kennis gestel dat die verdagte begin het om haar besittings te verkoop.
Nadat die slagoffer nie gevind kon word nie, het familielede die SAPD gevra om hulle na haar huis te vergesel.
Met die SAPD se aankoms op die toneel het hulle ’n deurmekaar kombuis, mes en bloed op die gordyne aangetref. By nadere inspeksie is op die slagoffer se liggaamsdele in ’n vrieskas afgekom.
Volgens berigte het Miripiri die vorige aand ’n ander vrou in dieselfde sinkhuis onthaal terwyl die slagoffer se opgekapte liggaam reeds in die vrieskas was.
Geen borginligting is al beskikbaar nie.
Bronne: IOL, Facebook





