GAUTENG. – Jacobus Stefanus Geldenhuis (65) het Donderdag op 21 aanklagte van bedrog en geldwassery, waartydens sy slagoffers altesaam R100 miljoen verloor het, in die Palm Ridge- gespesialiseerde kommersiële misdaadhof verskyn.
AO Thatohatsi Mavimbela, Valke-woordvoerder, sê in ‘n verklaring Geldenhuis is in hegtenis geneem nadat hy hom op 4 Desember by die owerhede aangemeld het. Die verdagte het homself na bewering as ’n finansiële adviseur voorgedoen en slagoffers oortuig om in geld in buitelandse markte te belê. Die slagoffers se geld is dan glo in verskeie bankrekeninge gestort. Geen beleggings is egter gemaak nie. Ondersoek toon dat hy reeds in 2009 as ’n finansiële adviseur gederegistreer is en dat sy maatskappy nie by die FSCA geregistreer was nie.
Hy is op borg van R10 000 vrygelaat. Die saak is tot 26 Januarie 2026 vir afskrifte van die saakdossier uitgestel.