WES-KAAP. – ‘n Buitelandse burger (38) wat glo in Parklands in die besit van meer as R1 m. in kontant en verskeie bankkaarte gevind is, sal na verwagting Donderdag in die Kaapstad-landdroshof voorkom.
Kapt. Frederick van Wyk sê polisiebeamptes van die provinsiale operasionele bevelsentrum het vandag (Dinsdag) na aanleiding van inligting oor dwelmverwante aktiwiteite op ‘n huis in Holly Crescent, Table View, toegeslaan en die deurbraak gemaak. Tydens die deursoeking is ‘n groot hoeveelheid Suid-Afrikaanse en buitelandse geldeenhede, wat die waarde van R1 m. oorskry, sowel as ‘n sak vol bankkaarte, op die perseel gevind. Die inwoners van die huis kon nie ‘n geldige verklaring vir die besit van die kontant en kaarte gee nie. Die verdagte is op die vermoede van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom en sameswering om kubermisdaad te pleeg, in hegtenis geneem.
Van Wyk sê die saak word verder ondersoek en meer aanklagte kan moontlik soos die saak vorder, bygevoeg word.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





