KWAZULU-NATAL. – Velile Ntshangase (27) het vandag in die Ndwedwe-landdroshof verskyn nadat hy in verband met die beweerde poging tot moord op die MK-party se iLembe-distriksekretaris, Zanele Mbhamali, en haar man in hegtenis geneem is.
Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, van die SAPD, sê die verdagte staan tereg op twee aanklagte van poging tot moord. Die saak is tot 3 Augustus uitgestel sodat die betrokke verdagte regsverteenwoordiging kan bekom.
Die aanklagte spruit uit ‘n voorval op 23 Junie toe Mbhamali en haar man laat die aand op die P100 naby Ndwedwe onderweg huis toe was. Volgens die polisie het onbekende aanvallers op hul voertuig losgebrand. Die KwaZulu-Natalse taakspan vir politieke moorde (PKTT) het die saak op 10 Julie ontvang en met ‘n ondersoek begin, wat tot Ntshangase se inhegtenisneming gelei het.
Volgens die ondersoek word ‘n tweede verdagte ook met die saak verbind. Hy is egter op 29 Junie by sy woning deur onbekende aanvallers doodgeskiet nadat hy van die werk af teruggekeer het.
Die polisie sê die ondersoek duur voort.





