VRYSTAAT. – ’n Man (50) van Brackenfell in die Wes-Kaap is onlangs deur die Vrystaat se provinsiale eenheid vir ernstige en gewelddadige misdade (SECI) in hegtenis geneem ná ’n ondersoek na kuber-seksuele misdrywe wat minderjariges daarby betrek het. Hy het glo twee tienerseuns in Dewetsdorp met leë beloftes van geskenke in ruil vir seksueel eksplisiete video’s en foto’s uitgebuit.
Sers. Mahlomola Kareli, polisiewoordvoerder in die Vrystaat, sê ‘n kliniese sielkundige by ‘n skool op Dewetsdorp het in Februarie ‘n klag ingedien. Die verdagte staar verskeie aanklagte in die gesig, insluitend seksuele uitbuiting, aanhitsing en die fasilitering van die vervaardiging van kinderpornografie. Konst. Mosiuoa Ntholeng, die ondersoekbeampte, het die verdagte op 26 Mei in Brackenfell opgespoor en in hegtenis geneem. Die beskuldigde het vlugtig in die Blue Downs-landdroshof verskyn, voordat hy na die polisieselle op op Dewetsdorp oorgeplaas is. Hy sal op 2 Junie in die plaaslike hof voorkom.
Die polisie het met die inhegtenisneming op elektroniese toestelle beslag gelê. ‘n Voorlopige ontleding het moontlike bykomende slagoffers tussen 14 en 16 jaar aan die lig gebring. Verdere aanklagte kan volg soos die ondersoek vorder.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]